"Waar anders op hierdie reuse aarde sal jy 'n Nasionale Braaidag teekom? Ons het springbokke wat oor die vlaktes hardloop met die goue strepe van Afrika-sonstrale wat soos skadu's hulle navolg. Ons het leeukrete in die skemer na 'n lang dag van wildritte in die Kruger Nasionale Park. Ons het laataand vuurwerke en vroegoggend Maltabella. Ons het snoek en skyfies langs die Kaapse strand. Ons het Rocking the Daisies, Oppikoppi en Aardklop. Ons het Polisiekarre, Tuin Dwergies, Chameleons en Jan Blohm. Ons het Casper de Vries, Koos Kombuis en Lisa se Klavier."
"Ons het biltong & braaivleis, rooibostee en koue bier. Ons het Kaapse wynlande, sinkdakhuise, Amazi en straatbrakke. Ons het proteas en fynbos en Knysna-woude. Ons het monumente en kastele, ons het DJ Opperman. Ons het gewelhuisies en boeremeisies en skaapboud in die oond. Ons het Carike Keuzenkamp en kaalvoet in die reen. Ons het onderrig en geselskap in al elf ons moedertale. Ons het die uniegeboue, pap en wors, sushi en kerriekos. Ons het staatteaters, staatsbeamptes en staatsgevangenisse. Ons het All Gold en Mrs Ball's Chutney, ons het die Spur en Dros. Ons het Mr Price en goedkoop klere, ons het krieket, ons het gholf. Ons het Pukke, Tukkies, Maties, Kovsies en nog."
"Ons het Bafana Bafana, ons het Loftus, ons het haaie op 'n rugbyveld. Ons het Irma Stern en Maggie Loubscher en Die Ewige Kind. Ons het Boesmans, SAUK en Trompie se Boksombende. Ons het Trits en Kwart-voor-sewe-lelies, Tsotsi en Teuns Jordaan. Ons het Sonrotse en Sambonani."
"Ons het swart, wit, pienk, pers, geel en blou. Ons het mense van elke kultuur. Ons het Johannes Dlamini's, Angelina de Wette en Precious Kingston's. Ons het groen tee en fried rice, ons het mielies en Stork Margarien. Ons het voorvaders en nageslagte, Sangomas en Doktorsgrade. Ons het trignometrie, metafore, Valpre en Shebeens. Ons het Pick n' Pay en Superspar, Coca Cola en Sandton Square. Ons het Unisa, Bronx en Balletdansers, opera, Tropica, Mzanzi Magic en Ubuntu."
"Ons het Madiba en Van Riebeeck, Cell-C en swak sein. Ons het melktert, hertzoggies en wasabi, Sasko Sam en brandewyn. Ons het warm dae in Durban en koue winters by die Gariep. Ons het plastiek skoene van Bethulie en varkore in die tuin. Ons het karoobossies en rietrotte, vyekonfyt en Sally Williams Nougat. Ons het vir jou. Ons het vir my. Ons het Suid-Afrikaners."
"Ek is Suid-Afrikaans. Ek is trots Suid-Afrikaans."
If this is the way our high-schoolers feel about our motherland, then this place can't be half bad. I now find myself all peacocky again and craving some fish an chips from a random street cafe. Lets hope at least half of the South African population feel this way about their country, 'cause it's pretty awesome.
I hope you all have a fabulous Heritage Day and spend it reveling in the beauty of our country and it's people. 'Cause we're pretty awesome too.